
=====================================================================
Terugblik op die grootste kunstefees (AV 7:3)
=====================================================================

Inhoudsoorsig

Terugblik op grootste kunstefees

Vrolike jeugdiges geniet die kunstefees se groot verskeidenheid.

---------------------------------------------------------------------
Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het sedert die vorige uitgawe van Afrikaans Vandag plaasgevind. Johan van Zyl gee sy indrukke en toon 
daar is verskillende benaderings.

EEN loom agtermiddag, n 'n blitsige onderhoud met die skrywer Abraham H. de Vries vir die feeskoerant Krit, piekel ek af in die straat 
Baron van Reede.

(Di tyd van die jaar is Oudtshoorn volkome versadig van mense en welbehae.)

"Wie nie kan sien dat die KKNK en ander Afrikaanse feeste die suiwerste vorm van protes is nie, is blind of dom," het die skrywer bekaf oor 
'n bekertjie boeretroos beduie. En later, meer gematig: "Die geweldige opbloei in kunstefeeste is sonder twyfel die gevolg van die 
amptelike afskaling van Afrikaans."

Maar in die afgesperde dorpstraat -- die o-so-verguisde moedertaal vergete -- lyk die snaterende lerskare dan nes feesgangers wat salig 
kuier en drink, wat jaarliks vreed- en vreetsaam verkeer, wat geen sinnigheid het in verset nie.

"My seun, Willem, het hoeka te vertelle ek is van 'n ander generasie -- 'n generasie effe van lotjie getik oor die voorgenome protesaksie," 
het die skrywer ges.

Ek verwonder my di namiddag aan die joelende menigte: die meestal middeljarige gulhartiges wat voor die Radiosondergrense-verhoog op die 
maat van "Liewe Lulu" die heupe wikkelwakkel, die vleisvreters wat die Struiskombuis en Hap en Tap se geil aanbod van skaaptjops en wors en 
hoendersosaties en roosterkoeke nie kan afwys nie, die droewiges wat die ontydige dood van die minnesanger Bles Bridges, Tolla van der 
Merwe se hartprobleme en die ontgogeling van generaal Constand Viljoen oor sy gesig bo ontblote swart borste nie ondeurleef verby kan laat 
gaan nie, die ongemanierdes wat met hul histeriese applous en gesketter oor vloekwoorde op die verhoog enige dialoog maai toe stuur.

Wie is hierdie fratsemakers wat so gulsig die Krit verorber? wonder ek beterweterig. Is ons regtig van dieselfde "bedreigde" spesie? Hoe 
gebeur dit dat 'n verskeidenheid so verbysterend saam by een fees beland?

Ek kyk na die derduisende -- soos hulle na my -- en ek weet: dis my kerk se mense hierdie. Sterwelinge wat onbeskaamd Afrikaans praat. Of 
ek dit wil weet of nie. Al hou ek my h hoogmoedig of nonchalant. Al halleluja ek hoe luid wanneer hupse generasiegenote soos Hannelie 
Booyens, Sonja Loots, Izak de Vries en Kirby van der Merwe die aamborstiges oor Afrikaans op hul neus laat kyk.
---------------------------------------------------------------------

Vanjaar op Oudtshoorn beleef ek hoe kunstenaars met dun tot plat beursies en die minimum dekor, rekwisiete, tegniese ondersteuning en 
borgskappe -- veral in eenpersoonvertonings soos Hennie van Greunen se rimpelfeesproduksie Lyf (met Pedro Kruger), Marius Weyers se Weyers, 
Karin Hougaard se Metamorph (wenner van De Kat se Herrieprys), Laurinda Hofmeyr se Perd oor die maan (wenner van De Kat se Slurpieprys en 
Sarie se eerste Pronkpluim-toekenning) en Charles Fourie se Stander: Alle paaie lei na Fort Lauderdale (met Albert Maritz) -- wys hoe met 
Afrikaans gesmous kan word.

Ek hoor hoe gons die volstruiswe oor die amper onverbeterlike spel van Egoli se Franz Marx en die formidabele Sandra Prinsloo in Deon 
Opperman se drama Magspel, hoe die legende van Antjie Somers as musiekblyspel lewe kry.

Ek ervaar hoe die slimmes mekaar in die hare vlieg by Die Burger se lesingreeks, die troppie taalstryders mekaar karnuffel by Insig se 
debat oor Afrikaans.

Ek sien hoe die Boekeparadys en Afrikaanse skrywers oorval word deur leeslustiges, hoe Afrikaanse koerante en tydskrifte intekenare werf, 
hoe talentvolle straatkunstenaars met 'n hoed vol rande en sente huis toe gaan, hoe die kulturele terroris Zebulon Dread met sy tydskrif 
Hei Voetsek! die boere betower, hoe Ons maak'eit ... verstaan jy? vir die Winternachten posiefees in Den Haag gekeur word, hoe die sesde 
KKNK weer rekordverkoopsyfers behaal -- al was die kulturele oes nie grensverskuiwend nie.
---------------------------------------------------------------------

Het almal vanjaar tuis gevoel by die KKNK met sy 83 aanbiedings op die hooffees en 132 op die rimpelfees? Steek Afrikaans nog sy 
selfopgelegde grense oor en praat dit ruimhartig saam met die ander tien amptelike landstale? Hoekom was daar so min bruin 
Afrikaanssprekendes?

Ek weet nie.

Maar die sleutelrol wat kuns en kultuur -- en meer spesifiek kunstefeeste -- te speel het in die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die 
land, kan nie betwyfel word nie. Kunstefeeste is nie slegs platforms vir kreatiewe uitdrukking nie. Dit dien ook onder meer as ekonomiese 
inspuiting vir 'n streek: informele werkgeleenthede word geskep en beleggings (hoe klein ook al) deur die private sektor aangemoedig.

Ek moet jubel dat talle mense wat deur die jaar nie 'n voet in die teater sit nie, wat nooit 'n Afrikaanse boek koop nie, dalk op 
Oudtshoorn 'n plan sal maak.

Nietemin is Dan Roodt en die Pro-Afrikaanse Aksiegroep bekommerd. Nietemin span Jaap Steyn op 4 April in Die Burger die sosiolinguis Janet 
Holmes in om oor die toekoms van Afrikaans te waarsku: "Baie dikwels verloor 'n gemeenskap sy taal, nie omdat dit bewustelik besluit om sy 
taal prys te gee nie, maar omdat dit die bedreiging glad nie insien nie," verduidelik Holmes.

Kan daar van my (en ander lede van die jonger generasie) meer verwag word as om Afrikaans te praat, om kos te koop met geld wat ek 
uitsluitlik met Afrikaanse woorde verdien het, om my boekrak hartstogtelik met Afrikaanse boeke te vul, om die Afrikaanse toneel met hart 
en siel en verstand te ondersteun?

Miskien is ek met die bysiendheid geslaan waarteen Holmes waarsku, maar ek wil nie en gaan nie protesteer nie. Geen mens het my al genoeg 
rede gegee om nie meer te glo dat daar ver in die wapad 'n lig brand nie. Johan van Zyl is 'n Burger redaksielid.

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av732.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999, 2000       Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Julie 2000 /// Om vir moedertaal te stry of nie (AV 7:3) /// Terugblik 
op die grootste kunstefees (AV 7:3) /// Vlytige voorstander van veeltaligheid (AV 7:3) /// Forum vir openhartige debat (AV 7:3) /// Komrij 
blues (AV 7:3) /// Afrikaans as skakel na die buiteland (AV 7:3) /// Groot tjek vir stoepplesier (AV 7:3) /// Nuwe hoop vir ongeletterde 
plaaswerkers (AV 7:3) /// Behou diversiteit in globaliseringsproses (AV 7:3) /// Vennootskap van inheemse tale is prioriteit (AV 7:3) /// 
Carl Niehaus het in Nederland gebou (AV 7:3) /// Vele koppe maak puik planne (AV 7:3) /// ET blues (AV 7:3) /// Nuwe speler op die taalveld 
(AV 7:3) /// Talle faktore gryp in universiteitstaal in (AV 7:3) /// Tussen Scylla en Charybdis deurvaar (AV 7:3) /// Ver gemeenskappe se 
leiers leer sakevernuf (AV 7:3) /// Hansie blues (AV 7:3) /// Twee letterkundiges in gesprek (AV 7:3) /// 'n Bloeityd in die reklamebedryf 
(AV 7:3) /// Woordeboeke gee leerproses woema (AV 7:3) /// Nuwe toevoeging tot woordeboeklys (AV 7:3) /// Twee Koreane verstaan toe 
Afrikaans (AV 7:3) /// Studente wil in Afrikaans feesvier (AV 7:3) /// Afrikaans word in toneelwreld nuut gespel (AV 7:3) /// Jou 
Afrikaans is redelik goed! (AV 7:3) /// Privaatgesprek (AV 7:3) ///

